Wycliffe Bybelvertalers

 Een van die organisasies wat deur ons gemeente ondersteun word, is die Wycliffe Bybelvertalers. Wie is hulle en wat doen hulle?

Die Wycliffe Bybelvertalers van Suid-Afrika is verantwoordelik vir die vertaling van die Bybel in die minderheidstale in Suid-Afrika, Namibië, Botswana, Angola en Mosambiek. Op die oomblik word daar aan ‘n hele paar projekte onder die San-gemeenskappe in die streek gewerk. Dis ‘n hele uitdaging om die woorde van Jesus in die verskillende San-tale, met al die klik-klanke neer te skryf! ‘n Baie opwindende projek is die vertaling van die Bybel in gebaretaal, spesifiek vir die gebruik deur dowe mense in Afrika, wat as gevolg van hul gestremdheid nooit die kans gehad het om skool toe te gaan en te leer lees en skryf nie.
Daar is nog baie mense op aarde wat die Bybel in hulle eie taal nodig het – méér as wat jy jou kan voorstel. In die wêreld word daar, sover bereken kan word, 6912 verskillende tale gepraat. In baie van die tale is die Bybel reeds vertaal, maar daar is nog 2393 tale waarin daar geen vertaling beskikbaar is nie. Miljoene der miljoene mense kan nie, soos ons, die Bybel in hul moedertaal lees nie. In Afrika, alleen, is daar nog 800 tale waarin vertalings benodig word.
Die wêreldwye Wycliffe-organisasie het ‘n visioen, om teen die jaar 2025 ‘n Bybelvertaling – of ten minste ‘n Bybelvertalingsprojek – in elkeen van die oorblywende tale op aarde gereed te hê. Dit gaan oneindige harde werk beteken, maar die sendelinge en die taalkundiges is vasberade. Die teks wat hulle as motto aanvaar het is Habakuk 2:14: “Soos waters die seebodem bedek, so sal die magtige teenwoordigheid van die Here oral op aarde geken word”.
Die Wycliffe Bybeklvertalers is een van die organisasies wat met die reuse vertalingstaak besig is. Groot getalle sendelinge en taalkundiges wy hul hele lewe daaraan om nuwe tale te leer ken, om die ortografie en die grammatika van die tale vas te lê, en om uiteindelik die Bybel in dié taal te vertaal. Dis ‘n wonderlike werk, maar dit verg baie tyd en toewyding. Dit duur gemiddeld 25 jaar se harde werk om ‘n nuwe vertaling die lig te laat sien.
Dis ‘n groot voorreg vir Skuilkrans-gemeente om by hierdie werk betrokke te wees, en om by te dra vir die groot werk. Sou dit nie wonderlik wees as omgegeegroepe wat soveel waarde uit hul gesamentlike Bybelstudie haal, besluit om van die Wycliffe-projekte, die Bybelvertaling vir dowes of vir een van die San-groepe - te ondersteun nie. 

Ds. Piet Meiring is ons gemeente se fasiliteerder van die Wycliffe-projek. Skakel gerus met hom (083 458 9008) om meer inligting te kry.
Share by: