New Button New Button

KLEUTERS & SKOOLGAANDE JONGMENSE

As jy by Skuilkransgemeente aansluit, klim jy saam met ons in ons geloofsbus.  Jy reis saam met ons op ‘n wonderlike avontuur met God aan die stuur!  Ons bus se naam is die "Google"-bus.  Ons begin by die kerk, maar eindig in die wêreld!  Net soos met Google, begin jy by Google maar eindig op ‘n ander webtuiste.  Saam met ons op die bus is daar baie medereisigers wat ook ‘n passie vir Jesus en Sy kerk het.  Enigiemand is welkom, want ons bus is soos ‘n taxi - daar’s altyd plek vir nog een!  Ons reis saam van die Kleuterkerk af, reg deur die groei- en dissipelgroepe tot met belydenisaflegging, maar ook verder, daar is ook  matriek, studente en jong werkende groepe. Op ons geloofsreis is ons baie afhanklik van ons padkaart of GPS (die Bybel) wat vir ons wys waar ons vandaan kom en waarheen ons gaan.  Ons reis reg oor die hele kaart en ontdek nuwe plekke oor ‘n groot verskeidenheid terreine soos ons meer en dieper van die Bybel leer. 

Op ons bus leer ons ook al die medereisigers beter ken en bou verhoudings rondom kuiergesprekke ná die eredienste in kleingroepe wat bou op die temas van die dienste.  Hier leer ons om dissipels van Jesus te word en om vir mekaar om te gee.

KLEUTERKERK

Ons wil ons voorskoolse jongmensies op hulle eie vlak met die evangelie bedien en daarom hou ons Sondae om 09:00 ook kleuterkerk in die kelder (onder die verhoog van die saal). Voorskoolse kinders en ouers is welkom. Ouers en kinders begin as deel van die Gesinsdiens in die saal, maar gaan na afloop van die lofsang na die kelder.

In die kelder word kreatiewe lesse aangebied vir ons jongmensies. Daar word saam geteken, geverf, gesels en baie meer. Dit is reeds hier waar geloofsvorming plaasvind. 

Indien jy meer wil uitvind oor die kleuterkerk, skakel vir Mariska Scholtz. 
Mariska Scholtz

OGGEND GROEIGROEPE

Vir ons laerskool-medereisigers is daar elke Sondagoggend direk na die erediens groeigroepies.  In die groeigroepies, wat strek van Gr. 1 tot 6, volg ons ‘n goed uitgewerkte program om kinders se geloof te vorm.  Ons gebruik die 30 minute saam met die kinders om die boodskap van die Bybel tot op elke kind se vlak af te preek en op hul lewens van toepassing te maak.  Moeite word ook gedoen om oulike groepleiers te kry wat ‘n passie het vir kinders en wat graag in hulle geloofslewens wil bou.


As jy meer wil weet oor die groeigroepe, skakel vir ds. Yolandé. 

Ds. Yolandé Giliomee

AAND DISSIPELGROEPE

Vir ons hoërskool-medereisigers is daar na elke aanddiens dissipelgroepe.  Hier word hulle geloof verder gevorm waar hulle leer hoe om dissipels in die wêreld te wees.  Die dissipelgroepe bou op die groeigroepies se inhoud en die groot fokuspunt is om jongmense te help om hul geloof uit te leef in hul alledaagse lewe, waar ook al hulle hulself bevind.  Ons gesels oor ‘n hele paar jongmens-temas wat aktueel in die hoërskool is.  Gesprekke sluit grotendeels aan by die temas van die aanddiens.


As jy meer wil weet oor die dissipelgroepe, skakel vir ds. Nadine. 

Ds. Nadine

BELYDENISJAAR 

Daar is oomblikke in ons lewe wat so spesiaal is dat ons moeite wil doen om dit te onthou en te vier. Een van daardie oomblikke is wanneer ons besef dat God ons oneindig liefhet en ons dan kies om daardie liefde te aanvaar en ‘n navolger van Christus te word. Belydenis van geloof is ‘n teken wat ons help om daardie baie spesiale oomblik te merk, te onthou en te vier - ‘n roetemerker op ons geloofspad.


Om belydenis van geloof af te lê, is ‘n geleentheid vir ons om tussen ander gelowiges wat vir ons omgee te antwoord op ons doop.  Die doop is ‘n teken daarvan dat God ons gekies het - selfs voor ons dit kon verstaan.  God het belowe dat Hy vir die res van ons lewens by ons sal wees, vir ons sal lief wees en ons vergewe - maak nie saak wat ons doen of wat gebeur nie.  Wanneer ons dan ons geloof bely, sê ons daarmee dat ons daardie liefde en sorg van God aanvaar.  Ons kies gevolglik:  1) om ons lewens te leef met die wete dat God by ons is;  en 2) om God se leiding in ons lewens te volg.


In die belydenisjaar trek ons al die lyne bymekaar van wat jy oor die afgelope paar jaar geleer het.  Hierdie jaar word jy uitgenooi om saam met die dominees, jou ouers en jou pelle te dink oor God, geloof en die lewe.  Die doel hiervan is nie om ‘n klomp antwoorde te gee nie, maar eerder om jongmense te leer om vrae te vra en self by antwoorde uit te kom.


Aan die einde van die jaar, as jy lus is en kans sien, word jy uitgenooi om in die kerk voor ‘n klomp mense te sê wat jy glo, en dat jy met jou lewe wil antwoord deur iets van hiervan te wys.  Dit is vir ons belangrik dat jy hierdie belydenis nie sommer doen omdat almal anders dit doen of omdat jou ouers dit van jou verwag nie - dit moet van jouself af kom.


Die belydenisgroep ontmoet in die skoolkwartaal elke Sondagaand om 18:30 (na die aanddiens) in die kapel langs die kerkgebou onder leiding van ds. Nadine. 

Share by: