ONS GESKIEDENIS

Op 17 Februarie 1971 besluit 98 gemeentelede van Meyerspark, onder leiding van die Ring van Pretoria-Oos, om oor te gaan tot die stigting van ‘n nuwe gemeente.  Die gemeente staan toe bekend as Skuilkrans-Pretoria – ‘n voorstel van prof. Carel Boshoff.  Die gemeente het afgestig met 673 belydende lidmate en het vir ongeveer sewe jaar dienste gehou in die sale van Laerskool Meyerspark, Hoërskool Silverton en Laerskool Skuilkrans.
Nadat daar by elke atletiekbyeenkoms op Pilditch pannekoeke en hamburgers verkoop is, het die boufonds op R200 000 gestaan en kon daar in 1976 met bouwerk begin word.  Die argitek was Hannes van der Walt en die bou-aannemer Stompie van der Merwe.  Op 24 Januarie 1978 is die kerkkompleks in gebruik geneem met 1 753 belydende lidmate en 1 269 dooplidmate en di. E Krüger en GH Reinecke as leraars.
Kerkraad tydens inwyding van nuwe kerkgebou – 24 Junie 1978

Kerkraad tydens inwyding van nuwe kerkgebou – 24 Junie 1978

Basaars het van die begin af ‘n belangrike plek in die jaarprogram ingeneem.  Die eerste paar basaars is in ‘n groot tent gehou, waarna dit verskuif het na die binnehof van die kerkgebou.

In 1982 is daar, met die hulp van twee studente en een naaimasjien, ‘n naaldwerkklas vir huishulpe begin.  Teen 1988 was hierdie program sterk op dreef en baie lidmate het belang gestel om te kom help.  Verskeie naaimasjiene is deur die gemeente geskenk en sommige lidmate het ook kom help leer.  Teen 1990 was daar jaarliks ongeveer 60 studente gehelp deur hierdie naaldwerkklasse.  Die klasse het uitgebrei tot lees- en skryfklasse - waar werkers leer lees en skryf het in hul moedertaal.  Uit hierdie het daar ook Bybelstudiegroepe ontstaan wat vandag nog aan die gang is.

In 2005 het daar ‘n geskiedkundige gebeurtenis gebeur, waar NG Skuilkrans en NG Silverton saamgesmelt het tot een gemeente en van toe af gesamentlik bekendgestaan het as NG Skuilkrans.  Een van die ontwikkelings wat ontstaan het vanuit die samesmelting, was die Crux-naskoolsentrum wat deel is van die gemeente se uitreikprojekte.  Dit is gerig op die arm gebied van Silverton, waar nasorg vir skoolkinders ‘n belangrike behoefte geword het.  Meeste van die kinders se ouers werk bedags en is nie in staat om hul kinders smiddae op te pas nie.  Crux voorsien ‘n belangrike behoefte aan die gemeenskap en deel in ‘n belangrike dimensie van kerkwees in die wêreld.
Share by: