SKUILKRANS EREDIENSTE

Ons glo dat ...
  • God met ons deur sy Woord en sakramente praat;
  • God daarvan hou as ons Hom aanbid met verskillende style en liedere;
  • integrasie belangrik is en daarom ook stilte;
  • diversiteit belangrik is en dat ons vir kinders, enkellopendes, families en ouer mense wil ruimte skep;
  • alle mense, ongeag ras of seksuele voorkeur, welkom is;
  • ons gasvry moet leef teenoor vreemdelinge;  en
  • God ons hiér bevry tot lewe en ons uitstuur om met diens en geregtigheid 'n verskil te maak orals waar ons kom.

VERSKILLENDE EREDIENSTE & AANBIDDINGSGE-LEENTHEDE

VERSKILLENDE EREDIENSTE EN AANBIDDINGSGELEENTHEDE

KLASSIEKE EREDIENS
OM 09:00 IN KERKRUIM

Die erediens het ‘n klassieke karakter, maar ons streef daarna om ook ligter liedere te sing.  Tekskeuses vir preke is gekoppel aan die kerklike jaar wat die lewe van Jesus Christus, ons gemeentevisie en aktuele sake volg.  Leraars beplan eredienste op Dinsdae saam met die orreliste.

GESINSDIENS
OM 09:00 IN DIE SAAL

Gesinne en die bou van geloof in gesins- en familieverband is vir Skuilkrans as Gereformeerde gemeente ononderhandelbaar.  Die gesinsdiens is dus spesiaal ingerig vir families met kinders van Graad 1 tot 6. Die teks en tema van die diens is ook gekoppel aan die kerklike jaar, gemeentevisie en aktuele temas en word aangebied op ‘n wyse wat prakties en verstaanbaar is vir ons kinders.

AANDDIENS
OM 17:30 IN KERKRUIM

Die aanddiens is 'n kontemporêre diens waar oud en jonk welkom is.  Die musiek en prediking poog om veral jongmense (hoërskool en jong werkendes) in eietydse taal en klank aan te spreek, maar mense van alle ouderdomme sal daar aanklank vind.

KLEUTERKERK
OM 09:00 IN DIE JEUGLOKAAL 
(onder die saal)

Ons wil graag ook ons voorskoolse kinders op hulle eie vlak met die evangelie bedien en daarom hou ons kleuterkerk op Sondae om 09:00 in die Jeuglokaal (kelder).  Alle voorskoolse kinders en ouers is welkom. Almal begin saam in die saal as deel van die Gesinsdiens, maar loop af na die jeuglokaal ná die lofsang.

EREDIENS VIR 
BEJAARDES

Daar is gereeld eredienste by Brummeria Renaissance Aftreeoord, Palms Renaissance Aftreeoord en Masonic Haven.

DIEPERDELF-DIENS

Dieperdelf bied geleenthede waar ons nadink oor die verhouding tussen Christus en die kultuur van ons dag. Leer en etiese kwessies geniet heelwat aandag.  Ons gee ook aandag aan persone, boeke, musiek en films wat op die vlak van geloof en religie lê.  Dit vind Sondagaande tydens die aanddiens (om 17:30) in die saal plaas soos wat relevante kwessies opduik.
Share by: