By Skuilkrans glo ons dat geloofsvorming 'n voortdurende proses is. Dit stop nie die dag wanneer jy belydenis aflê of klaar maak met die "amptelike" kerklike vormingstrukture nie. Ons glo dat geloofsvorming 'n lewenslange proses is vir gelowiges van alle ouderdomme.
Daarom het ons in 2018 'n Bybelskool op die been gebring om 'n geloofsvorming geleentheid te skep vir mense wat graag meer van die Bybel en Bybel verwante onderwerpe wil leer. Daar is drie Bybelskool kursusse per jaar wat oor vyf of ses lesings van twee ure elk aangebied word. Een kursus 'n jaar handel oor die Ou Testament, een oor die Nuwe Testament en een oor 'n tema van geloof.
Die Bybelskool bied jou die geleentheid om in jou geloof te groei en ook meer te leer van God se Woord. Alhoewel geen toetse of eksamens afgelê word nie, neem ons dit steeds ernstig op en nooi graag kundige teoloë om ons verskeie kursusse aan te bied. Daar is nie 'n ouderdomsbeperking op die Bybelskool nie en gelowiges van alle ouderdomme is welkom om die kursusse by te woon.