GETUIENIS


Jou diensbaarheid, voorbidding en finansiële bydraes ten bate van ons Gemeentebediening word baie waardeer. 
Maar soos ʼn vlam nie anders kan as om te brand nie, kan ʼn Christen nie anders as om te getuig nie. 
Klik "Ons Getuienisaksies" vir 'n samevatting van al ons pogings om getuies te wees. Bid vir leiding om die Geloofoffer-belofte vorm te voltooi. So kan jy jou verbind tot 'n eenmalige skenking of 12 maandelikse skenkings vir Getuienis. Stuur asseblief jou voltooide vorm aan ds. Nico Swart, sodat beplanning gedoen kan word.
(nico@skuilkrans.co.za)
Ons glo dat Skuilkrans bestaan ter wille van ander en met ons getuienisbediening reik ons uit na mense wat nie deel van ons gemeente is nie en dra ons iets van die Here se liefde die wêreld in.  
Omdat elke lidmaat ‘n getuie is, daag ons alle Skuilkransers uit om vier dinge te doen: 
Bid
Skryf in vir die Alpha-kursus 
Raak betrokke by van ons projekte
Onderneem om 'n Geloof-offer bydrae te gee.

BID:

‘n Goeie beginpunt (is altyd) om te bid.  Ons getuie-wees begin waar ons met die Here praat en bou aan ‘n lewendige verhouding met Hom.  Wanneer jy beleef dat die Here ‘n werklikheid in jou lewe is en hoe Hy jou lewe verander, het jy sommer baie om oor te getuig.  Voor jy klaar gebid het, moet jy ook onthou om vir ander mense te bid.  Die Here praat met ons oor ander mense, gee vir ons leiding oor hoe om iets vir hulle te beteken en daarom is dit belangrik dat ons ook sal bid en intree vir mense buite ons gewone kring.  Jy kan sommer self iewers ‘n lysie maak van mense vir wie jy graag wil bid – dalk ‘n vriedin of vriend met wie jy kontak verloor het, ‘n kollega by die werk, jou baas of vir sy vrou!  Dit maak nie baie saak vir wie nie, maar wel dat ons wyd bid.

ALPHA-KURSUS:

Die Alpha-kursus is ‘n uitsonderlike opleidingsgeleentheid wat wêreldwyd al meer as 17 miljoen mense toegerus het met ‘n beter begrip van wat ‘n verhouding met Jesus behels.  Die kursus is ‘n geloofsaktiveringskursus wat strek oor ‘n periode van 12 weke en word reeds vir ongeveer 26 jaar lank reg oor die wêreld aangebied.  In hierdie kursus word die basiese beginsels van ons Christenskap herbevestig en dit bestaan uit saam eet, kyk na ‘n dvd en dan informele besprekings in kleingroepe.  Voortspruitend hieruit word kleingroepe op 'n natuurlike wyse gevorm.

Ons nooi jou graag uit om deel te neem aan hierdie kursus met die oog om kerkvreemde mense weer terug te nooi na die kerk.  Dit is dus ‘n kursus met die klem op evangelisasie.

PROJEKTE:

Skuilkrans het ‘n hele klomp Getuienis-diensgroep– projekte wat daarop gemik is om die Goeie Nuus buite ons gemeente rond te vertel.  Party van hierdie diensgroepe het baie met “vertel” te make – ons ondersteun en subsidieer ‘n klomp sendelinge, dominees en kerkies.  Ander diensgroepe “vertel” die Goeie Nuus deur kospakkies vir honger gesinne en komberse vir straatkinders te neem en naaldwerkklasse vir huiswerkers in die omgewing aan te bied.  Ons vertel ook die Goeie Nuus deur ons verantwoordelikheid na te kom teenoor kinders en bejaardes.  Een van die lekkerste Goeie Nuus-stories is dat God vir ons ‘n toekoms gee - daarom doen ons moeite om ook vir ander mense nuwe moontlikhede te gee deur ontwikkelingsprojekte en om ons op ‘n lang termyn aan hulle te verbind.  Jy kan aansluit by ‘n diensgroep of sommer net dinge bymekaarmaak vir hulle werk, op ‘n uitreik gaan of toebroodjies smeer.

GELOOFSOFFERS:

Om al hierdie werk te kan doen, maak ons gebruik van geloofsoffers.  ‘n Geloofsoffer is ‘n vrywillige “bo-en-behalwe”-bydrae wat Skuilkransers maak en wat nie vir onsself gaan nie!  Die geloofsoffers, dankoffers en fondsinsamelings maak ons projekte moontlik.  Wil jy nie dalk oorweeg om ‘n geloofsoffer te gee nie? Bid asseblief daaroor.
Share by: