2012
Fotos en Stories
http://www.skuilkrans.co.za/fotos-en-stories.html

© 2012 2012
 

Fotos en Stories

Stuur gerus u eie getuienisse/gedigte en fotos en ons plaas dit graag.

kleingroep@telkomsa.net

Is Belhar `n belydenisskrif? Wat presies is `n belydenisskrif?

vind die grondvorm hiervan alreeds in die liedere en gebede in die Nuwe Testament. Algaande word dit nodig om die Christelike geloof omvattend te bely. Die Apostoliese Geloofsbelydenis ontwikkel in die 2de eeu en in die stryd rondom die godheid van Jesus Christus en die Heilige Gees, die belydenis van Nicea (381) en die belydenis van Atanasius in die 5de eeu. Saam met die besluite van Chalcedon (451) vorm hierdie simbole die grondslag van die hele Westerse Christendom. Dwarsdeur die Middeleeue was die beslissings van die Ou Kerk genoeg.

Met die Reformasie in die 15de tot 16de eeu ontstaan `n totaal ander situasie. Luther en Calvyn het die boodskap van Paulus dat God ons uit genade alleen liefhet en red, herontdek. Die kerke van die Reformasie het met die klem op die Skrif alleen hulself afgeskei van die gesag van die pous. Só ontstaan die verskynsel van belydenisskrifte. Belydenisskrifte is eg gereformeerd en ontstaan in situasies waarin die kerk oordeel dat die waarheid van die Christelike evangelie self op die spel kom (bedreig word) en opnuut bely moet word.

Ten eerste lê die krag van `n belydenis dat dit gerig is op `n konkrete oomblik in die hede. Soos met Luther en Calvyn het daar ook in die 20ste eeu `n krisis in die Lutherse Kerk in Duitsland ontstaan toe die kerk in navolging van Hitler besluit het dat persone van Joodse afkoms nie predikante of ampsdaers mag word nie.  Na `n eed van trou aan Hitler onstaan `n situasie van Status Confessionis, `n situasie van belydenisvorming wat gelei het tot die Barmenverklaring en belydenis in die Lutherse kerk. Só `n Status Confessionis breek in 1978 as gevolg van Apartheid in die destydse Sendingkerk (NGSK) in S.A aan. 

Die Belydenis van Belhar is in 1982 in konsepvorm goedgekeur en in 1986 in finale vorm as belydenis deur die Sinode van die NGSK aanvaar. 

Tweedens is dit belangrik om te onthou dat die situasie van die dag `n belangrike rol in die totstandkoming van `n belydenisskrif speel, maar dit beteken nie dat die evangelie van die situasie afgelees word nie. Die situasie spreek nooit die laaste woord nie, maar die evangelie. Die evangelie word dus afgespits op die nood van die uur.

Derdens is geen belydenisskrif negatief nie. Christene begelei hulle geloof altyd positief in `n  nuwe konteks. In Barmen is daar geen verwysing na Hitler nie en in Belhar geen verwysing na Apartheid nie. Dit gaan daaroor dat mense in `n krisissituasie God en die evangelie in hierdie uur op `n nuwe manier sien, verstaan, glo en bely. Die waarheid van die Belydenis geld eerstens vir diegene wat dit opgestel het en word nie geskryf met die oog op `n ander persoon of groep nie. Die idee is nie om die kerk te skeur nie, maar `n doelbewuste soeke na die suiwer en ware kerk van Christus. In Belhar gaan dit basies oor drie sake naamlik: versoening, eenheid en geregtigheid.

`n Belydenisskrif is nooit `n stok om mee te slaan, maar `n staf om die toekoms tegemoet te gaan. Dit word `n lens wat die kerk help om te onderskei tussen wat reg en wat verkeerd is.  Omdat die evangelie in `n belydenisskrif vervat word is dit goeie nuus wat met vreugde deur toekomstige geslagte herontdek moet word.

Ds. Auke

ONS IS EEN!

Die Belydenis van Belhar

Ons glo dat ons God die lewende God is wat na ons as mense uitreik, wat deelneem aan ons lewens en met ons praat oor die dinge wat in elke nuwe tyd en plek saak maak. Daarom gebeur dit dat die Here regdeur die gekiedenis die kerk, wat telkens nuwe situasies moes hanteer en nuwe vrae moes beantwoord, tot nuwe insigte gebring het. In die eerste eeue van die kerk se geskiedenis is die kerk se geloof in die klassieke geloofsbelydenisse vasgelê (in die Apostoliese geloofsbelydenis wat ons Sondae in die kerk gebruik, asook die Belydenisse van Nicea en dié van Athanasius). Gedurende die Kerkhervorming het talle belydenisskrifte ontstaan, waarvan die Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse Geloofs-belydenis en die Dordtse Leerreëls vir ons as Gereformeerde gelowiges van groot belang is.

Vyf-en-twintigjaar gelede is die Belydenis van Belhar deur die sinode van die N G Sendingkerk tydens ‘n vergadering in Belhar (‘n voorstad van Kaapstad) aanvaar. Toe die Verenigende Gereformeerde Kerk in die negentigerjare tot stand gekom het, is Belhar opnuut as belydenisskrif erken. Die waarde van die  belydenis is gou deur ander kerke oor die wêreld raakgesien. In die afgelope jare het talle Gereformeerde en Presbiteriaanse Kerke in Europa, Amerika, Kanada en Australië die belydenis hulle eie gemaak. By die afgelope Algemene Sinode van die NG Kerk is die Belydenis van Belhar met ’n   oorweldigende meerderheid aanvaar, met die verwagting dat streeksinodes en gemeentes van die kerk dié voorbeeld sal volg.

Waarom is die belydenis so belangrik? In ons tyd, in ‘n stukkende wêreld waar miljoene mense elke dag as gevolg van haat en geweld, onreg en misdaad en armoede ly, word dikwels gevra: Wat sê die Bybel oor al die dinge? Het die kerk ‘n boodskap vir ‘n wêreld in nood? Op ‘n heel besondere wyse beklemtoon die Belydenis van Belhar:

· dat God die kerk, sy liggaam, bymekaarmaak en versorg

· dat alle Christene na mekaar moet uitreik en as die een liggaam van Christus mekaar moet dien en versorg

· dat God Christene roep om versoening en vrede tussen mense te bring

· dat ons moet sorg dat reg en geregtigheid geskied en dat mense in nood versorg moet word

· dat ons God se wil moet bely en uitleef

Ons is daarvan oortuig dat die Here met ons praat en dat die sake wat in Belhar gelys word, inderdaad die dinge is wat die Here in ons tyd van sy kerk verwag. Daarom wil ons in die volgende drie weke oor hierdie belydenis gesels en dink. Ons is bewus daarvan dat sommige lidmate vrae oor Belhar het, en wil die vrae graag aan die orde stel. Dis ons ernstige gebed dat hierdie belydenis aanvaar sal word in Skuilkransgemeente, die NG Kerk, en regoor die wêreld.

Arno Meiring

 

 

 

 

Skuilkrans koor - Benedictus deur Karl Jenkins

GOD IS GOED

‘n Getuienis

Ek het “my  hartjie vir Jesus gegee” toe ek tien jaar oud was.  Ek kan nie onthou van ‘n tyd wat ek nie bewus was van Sy ondersteunende liefde nie.  Die afgelope twaalf jaar was ek egter intens bewus van Sy teenwoordigheid en liefde.

In 2000 word aggressiewe kanker by my gediagnoseer en ondergaan ek op 29 Februarie 2000 ‘n bilaterale mastektomie gevolg deur ses maande chemoterapie.  Deur hierdie moeilike tyd word ek gedra deur die Here Jesus, my dierbare man, wonderlike kinders, onderskraging van familie en vriende en baie gebede.  Gedurende die chemoterapie gebruik die Here my om vir Hom te getuig.  By my derde behandeling vra die onkoloog vir my hoe ek dit regkry om elke keer met ‘n glimlag op te daag vir behandeling en dat ek glad nie kla oor die newe-effekte van die behandeling nie.  Waarop ek antwoord dat die Here Jesus Christus my elke tree dra, dat ek glad nie die dag begin sonder om vir Hom te vra om my deur die dag te dra nie. Daarop antwoord die Ortodokse Griek, “a, tannie Liebs God doen baie vir ons.” Elke keer wanneer die dokter my gevra het hoe ek deur die behandeling kom, het ek dieselfde antwoord verskaf.  Met die laaste behandeling sê die onkoloog dat hy my weer gaan vra hoe ek so positief deur die behandeling gekom het, waarop ek weer die eer aan die Here Jesus Christus gegee het.  Die onkoloog het na my gekyk en vir my gesê, “ tannie vir my sê daar is ‘n Here Jesus Christus, dan moet ek jou glo, want ek sien Hom in jou.”

Tydens een van my behandelings het ek langs ‘n man gesit wat ook borskanker gehad het en op dieselfde behandeling as ek was.  Hy het gevra of hy met my mag praat, want hy wil meer weet van die lig wat uit my straal.   Hy  het gesê dat hy moed geskep het vir die lewe as hy my lewensvreugde aanskou het.  Ek het vir hom gesê dat ek elke dag die Here se genade afbid en dat ek nie op my eie krag staatmaak nie, dat ek geleer het om die Here te loof en te prys wanneer die newe-effekte van die behandeling my wou onderkry.  Daarop het hy gevra dat ek vir hom van hierdie Jesus moes vertel.  ‘n Jesus wat so ‘n merkbare verskil in iemand se lewe maak dat hy daarop jaloers was.  

Op 6 April 2007 (Goeie Vrydag) word my man, Jan, vir hoër diens opgeroep.  Ek was platgeslaan, want my lewe het om Jan gedraai, ek het nie geweet hoe ek die mas gaan opkom sonder hom nie.  Toe onthou ek dat hy dikwels gesê het, as jy seer het moenie weg van die Here hardloop nie, maar hardloop in Sy arms in.  Dit het ek gedoen en het 2 Kor. 12:9  “My genade is vir jou genoeg.  My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is,”vir my nuwe betekenis gekry.  Ek kan getuig dat die Here elke dag voorsien het.

In Desember 2009 sterf my sussie op 51 jarige ouderdom aan kanker.  Alhoewel ek baie ouer as sy is, was ons baie naby aanmekaar en was ons mekaar se ondersteuningstelsel.  Al was dit vir my baie swaar, het ek die Here geloof omdat Hy haar verlos het van die geweldige pyn.

In 2010 gaan my ma ook na die ewige Vaderhuis.  Sy het baie swaar gekry na my sussie se dood (sy was die tweede jongste.)  Weer het ek net meer bewus geword van Sy ewige arms onder my.

Gedurende hierdie twaalf jaar was daar ook hoogtepunte. 

Ek is al vir twaalf jaar kankervry.  Al die eer aan ons Hemelse Vader!

Chris het sy studies en klerkskap as prokureur suksesvol voltooi en die arbeidsmark betree.

Chris is in Oktober 2011 getroud en het ek nog ‘n dogter bygekry.  Elmien het in November 2011 die lewe geskenk aan ‘n pragtige seuntjie. 

Ons sou so graag wou hê dat Jan al hierdie gebeure saam met ons moes vier, maar dit was nie in die beplanning van die Vader nie.  Ek is getroos, want ek glo onwrikbaar dat die Here nie foute maak nie.  Dinge gebeur soos dit moet.

Ek het geleer om een tree op ‘n slag te gee, in biddende afhanklikheid van Hom wat oor lewe en dood beskik.

Die afgelope twaalf jaar staan in die teken van Sy genade.  Ek buig baie diep voor my Skepper om Hom te loof en te dank vir Sy groot genade, want alles is net genade.

 

Marie-Leen Rossouw-Liebenberg

BELHAR: BYBELS OF POLITIES KORREK?

Een van die vrae rondom die aanvaarding van Belhar in die NGK, is of die Belydenis werklik op die Woord van God           gegrond is?  Is Belhar nie bloot ’n politieke  dokument en die kerk besig met ’n spel van politieke  korrektheid nie?  Die  kerk het dertig jaar gelede agter politici aangeloop, hoe kan ons vertrou dat die kerk nie besig is om dit weer te doen nie?

Die uitspraak in Belhar wat mense laat wonder of dit nie heimlik bevrydingsteologie is nie, is die woorde:  “op ’n           besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die verontregte … en  dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg.”  Die uitspraak is vir die kerk belangrik omdat        gelowiges al sterker tot die oortuiging gekom het dat die       ideologie van Apartheid nie net onversoendheid en verdeling tussen gelowiges gebring het nie, maar dat dit ook strukture in die groter samelewing geskep het wat onregverdig,     vernederend, afbrekend en dikwels onderdrukkend vir baie mense was.  Vanuit hierdie perspektief het Apartheid mense nie alleen gedwonge geskei nie, maar is ’n onregverdige        samelewing  op grond van Christelike   Bybelse gronde,     regverdig.  Hiermee is God se reg self aangetas.

· Die indringende bespreking rondom Belhar het nog altyd gesentreer rondom die uitdrukking “dat God op ’n besonderse wyse” die God van  lydendes, armes en verontregtes is.  Dit is so geformuleer omdat die kerk doelbewus nie ’n klassestryd  wou aanhelp, asof God kant kies vir een groep teen ‘n ander groep nie.

· Wat in hierdie woorde vervat word, is die basiese,   historiese, Bybelse en Christelike oortuiging dat God die hulp van die hulpelose is.  Dit was deur die eeue vir die Christelike kerk vanselfsprekend . 

Ons sien alreeds in die vroegste wette in die Ou          Testament wat God se beskerming vir armes,           verontregtes en  magtelose duidelik maak, ons vind dit in verhale wat vertel van God wat telkens in die          geskiedenis ingryp om mense in nood en swaarkry te bevry, die talle wyses waarop die regte van die wese, die weduwee, die vreemdeling en ontwortelde   dwarsdeur die OT verdedig word, die tientalle kere waarop God in die Psalms geloof word as die God wat ingryp om die hulpelose te help, die beskerming van die armes in Spreuke.  Geregtigheid vir God is om aktief in te gryp om geregtigheid te herstel.  Dink maar aan die snydende kritiek van profete soos Amos en Jeremia teen sosiale onreg in die samelewing, dink maar aan Jesus se solidariteit met sosiaal uitgeworpenes, dink aan al sy wonderwerke as antwoord op mense se   konkrete nood.  Dink aan Matt.. 25:31-45 waarin Jesus sê dat in soverre ons iets aan die geringstes gedoen het, het ons dit aan hom gedoen;  dink aan die barmhartigheid en strewe na gelykheid in die eerste Christelike gemeentes in Handelinge.  So sou ons kon aangaan.

Hierdie belydenis is nie polities van aard nie, maar niks anders as die hart van die Christelike evangelie self nie.  God se geregtigheid beteken nie dat God   neutraal, onaangeraak, onbetrokke staan, wanneer iemand onregverdig behandel of vertrap word nie.  God se geregtigheid was in die verlede aktief, helpend en      reddend aan die werk en sal dit in die toekoms steeds wees.  Hiervoor dank ons Ho