Gemeente-identiteite
Kernwaardes
1. Ons glo dat God se werk deur sy Gees in ons gemeente deurslaggewend is. As mede-werkers sien ons sy hand in die gewone dinge van elke dag. Wat Hy doen bly belangriker as wat ons doen, daarom is Hy ons verwagting en kragbron.
2. Ons reaksie op God se ontferming bestaan eerstens uit verwon-dering en aanbidding. As gemeente wil ons met ons hele lewe dankbaarheid betoon, maar ook spesifieke geleenthede skep waar ons die Here op ‘n verskeidenheid van wyses kan loof en aanbid.
3. Ons aanvaar die opdrag om vir mekaar te sorg. As instrumente van die Here se liefde moet ons mekaar bemoedig deur op spontane en georganiseerde wyses na die innerlike en uiterlike te versorg.
4. Ons aanvaar dat God, wat ‘n hart het vir mense in nood, ons gebruik in sy sending na die wêreld. As basiskamp bestaan ons om mekaar toe te rus sodat ons individueel, maar ook saam, na ons eie omgewing, ons werkplekke en ook verder sal uitreik om die nood te verlig deur die evangelie met woord en daad uit te leef, en nuwe gelowiges by ons in te skakel.
5. Ons erken dat die Here ons liefhet soos ons is, maar ons nie laat soos ons is nie. As gemeente is ons deur geloof kinders van God en verander die Heilige Gees ons sodat ons die mense “word” wat ons in Christus “is”. Daarom skep ons verskillende geleenthede vir groei en toerusting en spoor ons mekaar aan om geestelik te groei.
6. Ons erken dat ons mekaar van harte moet liefhê deur ruimte vir mekaar te maak. As liggaam van die Here wil ons die eenheid van die kerk deur die verskeidenheid van persoonlikhede, ouderdomme, gawes, kulture, geslagte, geloofs-perspektiewe, style en groeivlakke laat verryk. Ons wil as gemeente skitter deur verhoudings gekenmerk deur sy liefde.
7. Ons strewe dat elke lidmaat ‘n kragpunt en ‘n dienspunt sal hê. As kerk in diens van die Koninkryk wil ons almal geleentheid bied om voortdurend van God se liefde bewus te wees sowel as om dit met ander te deel. Ons doen dit deur ‘n dinamiese kleingroep- en toerus-tingsbediening waarin die gawes wat God deur sy Gees gee, erken word.
8. Ons strewe is dat ons die verantwoordelikhede wat God aan ons toevertrou het, tot sy eers sal bestuur. As rentmeesters wat deur God vertrou word met tyd, finansies en menslike hulpbronne, wil ons dit binne die gemeente met getrouheid en uitnemendheid vir Hom bestuur.
9. Ons wil op die markplein van die wêreld beweeg en saam sorgdra vir God se skepping. As God se beelddraers werk ons mee dat verhoudinge en strukture in die samelewing, asook hulpbronne en natuurverskeidenheid verantwoordelik bestuur sal word.
10. Ons wil ons uiteindelik deur die Bybel as God se kompas vir ons hele lewe laat lei. As afhanklikes van god verwag ons dat die Gees die Woord aan ons sal duidelik maak voglens die eie aard van die Woord en vir die eise van die dag.
Gemeentebelydenis
(Die fundamentele en unieke doel van die gemeente in sy breë verband. Dit is ‘n antwoord op die vraag: “Wat verwag Christus as hoof van Sy kerk van ons as gemeente?”)
Skuilkrans gemeente behoort aan die Here wie ons roep tot lewenstoewyding aan:
- Aanbidding van God
- Deelneming met ander gelowiges
- Navolging van Christus
- Bediening aan mekaar
- Uitreiking oor grense om die Evangelie te deel
Visie vir beliggaming
(Die ideaal om na te streef;hoof rigtingwyser wat verkieslik omskryf is in ‘n enkele kort, eenvoudige en treffende sin.)
Ons word saamgebind
(as gesinne, groepe en gemeente)
sodat ons saam gestuur kan wees om ander
(met geloof, hoop en liefde)
te bemagtig.
Saam Gestuur!
VVV-fases
Fase 1: Ons ontdek ons vennote (2003)
Fase 2: Visioenering (2004-2005)
Fase 3: Leer en groei (2006-2007)
Fase 4: Mentor-verantwoordelikheid van ander (2007-2008)
Here,
dankie vir nuwe geleenthede!
In 2009 wil ons dien, nie net bedien word nie;
wil ons oppad wees en grense oorsteek al voel ons ongemaklik;
wil ons ander troos, en dalk self daardeur getroos word.
Seën ons Here, wanneer ons vanjaar ’n tree na buite waag –
ons weet U gee die uithou krag;
en waar ons U soms nie verstaan nie, mag ons U altyd vertrou!
Amen
|