Hoekom kleingroepe?
v In ‘n makrogemeente soos skuilkrans vorm kleingroepe die hart van die gemeente. Kleingroepe is 'n praktiese manier om mense wat 'n vol program het, toe te laat om op 'n gerieflike tyd te vergader saam met hul geestelike familie. Dit is ook die vinnigste en maklikste manier om as nuweling by die gemeente in te skakel, deel te voel en betrokke te raak.
v Daar is reeds meer as 70 verskillende kleingroepe in skuilkrans. Die groepe het elkeen ‘n unieke karakter en kultuur. Die meeste groepe vergader een keer ‘n week rondom ‘n uitgewerkte bybelstudie wat die leraars aanbeveel. Daar is ook groepe wat elke twee weke of een keer ‘n maand ontmoet. Baie groepe kuier ook van tyd tot tyd informeel en het een of meer uitreikprojekte wat hulle ondersteun of self by betrokke is.
v Die kleingroep bied ook 'n geleentheid vir enkellopendes om vriende te maak. Van hierdie groepe gaan dikwels saam kerk toe, gaan kamp of doen staptoere en ander uitstappies. Dit is ook ‘n geleentheid vir gesinne om saam betrokke te raak by die Woord van die Here, geestelik te groei en in te skakel by die gemeente. Elke groep kan self reëlings tref hoe kinders tydens byeenkomste versorg sal word. Groepe is ook welkom om raad te vra in die verband.
v 'n Kleingroep stimuleer Bybelstudie en gesprekke oor die Woord van God by die werk, tussen vriende en in die huisgesin. Aktuele sake en teologiese vraagstukke kan in ‘n veilige ruimte bespreek word, waar mense mekaar se opinies respekteer en dit nie vreemd is dat lede verskil van mekaar nie. In kleingroepe is dit maklik om enige vrae te vra en persoonlike belewenisse te deel. Leraars is ook beskikbaar om oor vrae te help dink of om ‘n groep te besoek, waar verdere hulp nodig is.
v 'n Kleingroep skep die geleentheid om grense oor te steek en te waag om om te gee vir ander. In so 'n groep word voorbidding gedoen vir ander en lede word onderling aangemoedig om uit te reik na mense wat nie in die kleingroep is nie. Die ideaal bly dat lede die sout word wat mense buite die groep beïnvloed.
v In so 'n groep word onderlinge sorg en omgee vir mekaar as groepslede gestimuleer. Namate openheid groei, word behoeftes al meer deur lede onderling gedra. So vind vermaning, bemoediging, vertroosting, ondersteuning en voorbidding plaas. Lede kan mekaar onderling ondersteun in 'n tyd van krisis of beproewing.
v 'n Kleingroep skep ook 'n ruimte waar Christene geestelik versorg word, waar hul leer bid, getuig en hul gawes beoefen. As gevolg van die Bybelstudie wat hulle saam doen, begin hulle ook om die Bybel beter te verstaan en verinnig hulle verhouding met Christus. Hier leer hulle om God te vertrou in gebed en ervaar hulle gebedsverhoring en wonderwerke.
v Een van die wonderlike gevolge van 'n kleingroep is dat nuwe hegte vriendskappe gesmee word. Hierdie vriendskapskring is egter nie geslote nie, maar oop na buite. Daarom moet 'n groep eintlik 'n magneet wees wat ander mense van buite af sal intrek. Daarom moet daar gereeld met liefde uitgereik word na buitestaanders. Daar moet goed gedoen word aan hulle, gekuier word, uitgenooi word en uiteindelik moet hulle gehaal word om sodoende deel van die groep te word.
v Hierdie warm, hartlike atmosfeer word uiteindelik ook na die erediens ingedra. Sover moontlik is kleingroepe betrokke by die beplanning van eredienste en in die diens deur te bid, getuig, kollekte op te neem, nagmaal uit te deel ens. Gevolglik verander die erediens van 'n onpersoonlike byeenkoms na 'n vriendelike, liefdevolle en 'n diep geestelike gemeenskap. Onderlinge liefde neem toe en 'n warm, hartlike familiegees begin ontwikkel (1 Tim 3:15, Gal 6:10 en Ef 2:19).
|